Die mens het sy vrou, Lewe, geken. Sy het swanger geraak en aan Spies geboorte gegee. “Met Jahoe het ek ‘n man voortgebring,” het sy gesê. Daarbenewens het sy ook sy broer Trots voortgebring.Trots was ‘n skaapwagter. En Spies, hy was ‘n bewerker van die aarde.
In dié dae het Spies vanuit die aarde se oes ‘n offer vir Jahoe gebring. Trots het op sy beurt van sy kudde se eersgeborenes en van hul vet gebring.
Jahoe het Trots en sy offer aanvaar, maar vir Spies en sy offer het Jahoe nie aanvaar nie. Hy het hom bitterlik vir Spies vererg. En sy gesig het gehang.
“Hoekom is jy kwaad hieroor?” het Jahoe vir Spies gesê. “En hoekom hang jou gesig? Hoekom word jy nie opgehef nie, selfs al doen jy goed? As jy nie goed doen nie, hurk sonde by jou deur, sy begeer jou. Jy behoort oor hom te heers.”
“Ons moet in die veld wees,” het Spies vir sy broer Trots gesê. Spies het na Trots gekom en hom doodgemaak.
Toe het Jahoe vir Spies gesê, “Waar is Trots jou broer?”
“Ek weet nie,” het Spies gesê. “Is ek my broer se oppasser?”
“Wat het jy gedoen?” het hy gesê. “Die stem van jou broer se bloed roep na my vanuit die grond. Jy is nou vervloek deur die grond wat sy mond oopgemaak het om jou broer se bloed uit jou hand op te vang. As jy die grond bewerk, sal dit jou nie help deur ‘n oes te lewer nie. ‘n Doellose wandelaar van die land sal jy wees.”
Spies het vir Jahoe gesê, “My skuld is groter as wat ek kan dra. Sowaar, vandag verban u my van die gesig van die land en van u aangesig. Ek sal versteek wees en in die land wandel. Enigeen wat my vind, sal my doodmaak.”
Toe sê Jahoe vir hom, “Inderwaarheid sal enigeen wat Spies doodmaak sewe keer daaroor gestraf word.” Jahoe het op Spies ‘n merk gesit dat niemand wat hom vind hom sal doodslaan nie.
En Spies het weggegaan vanaf die aangesig van Jahoe. Hy het in die land van Nod, oos van die vreugdetuin, gewoon.