Die mens het die vrou op haar naam geroep: Lewe. Want sy was die moeder van almal wat lewe.Magtige Jahoe het vir die mens en sy vrou klere van leer gemaak en hy het hulle dit laat aantrek.
En Magtige Jahoe het gesê, “Die mens is een van ons, een van diegene wat van goed en kwaad weet. Nou sal hy sy hand uitsteek en ook van die boom van die lewe vat. Hy sal eet en hy sal vir ewig lewe.”
En Magtige Jahoe het hom weggestuur uit die vreugdetuin sodat hy die grond kon bewerk wat van daar aan hom toegewys is.
Hy het die mens uitgedryf en hy het gerubs in die ooste van die vreugdetuin laat woon. ‘n Swaard van vlamme het heen en weer beweeg om die pad na die boom van die lewe te bewaak.