Die slang was slinkser as al die diere van die wildernis wat deur Magtige Jahoe gemaak is. Hy het vir die vrou gesê, “Dit is tog sekerlik so dat God gesê het julle mag van geen boom in die tuin eet nie?”
“Ons eet van die vrugte van die bome van die tuin,” het die vrou vir die slang gesê. “Maar van die boom in die middel van die tuin se vrugte, het God gesê: ‘Julle moet nie daarvan eet nie en julle moet nie daaraan raak nie, anders sal julle sterf.”
“Doodgaan?” het die slang vir die vrou gesê. “Julle sal nie doodgaan nie. God weet die dag dat julle daarvan eet, sal julle oë geopen word en sal julle soos gode wees wat die goeie en die bose ken.”
Die vrou het gesien dat die boom goed is om van te eet, dat dit die oë bevredig en wysheid kan gee. Sy het van die vrugte geneem en geëet. Sy het ook vir die man by haar gegee en hy het geëet.
Albei oë het oopgegaan en hulle het geweet dat hulle kaal is. Hulle het blare van die vyeboom aanmekaargestik en vir hulle klere gemaak.